(2 poems)
by Martin Labuschagne
die rewolusie het uitgereën
vanmiddag, jare na die persreën,
word ‘n bedonderde betoging
vir dié of daai agtienpersent verhoging,
aanmekaargeflans en in-gebus.
-: slagsprekende spreektrompette met
verwytende vuiste in die lug
is rewolusionêr-reg
vir nog ‘n binne/bende-geveg
onrus-plakkate het vryheid gesweer,
met ‘n donderende dreunsang op die maat
van stampende stewels,
is stroperige struggle songs gesing,
maar niemand het ag geslaan op die moontlikheid van reën,
verradderlik-verspreide donderweer
druppel op druppel het die onmenslike Natuur
die samekoms weg-gedreun:
en plakkate het sambrele geword
wat jillende skares na busse begelei
dan: word alles weer sto(r)m-stil.
en almal verklaar: later, op ‘n ander keer,
sal ons weer masjeer, onwetend:
dat vanoggend
om twee-minute-voor-twaalf
het die rewolusie finaal uitgereën
en iewers in die townships
het Jesus geween
My Erfenis is in sy Moer
van links na regs
(oog-)lopend het my voorsate
gestruikel, gestrompel
op ‘n pad
voorheen al deurgetrap, uitgetrap
tussendeur die aanklag van Eendrag Maak Mag
en ‘n lamsakkige landsvlag
was daar eens ‘n volksverlate enkeling,
‘n onteïende ekself op ‘n openbare veiling:
: as (ver)slaaf(de) verkoop,
wat ‘n winskopie-lafaard!
mettertyd was my toekoms
self-bevelk met potloodtoetse
en dice gooi vir ‘n ander man se kle(u)retoe: uit alles ‘n vermoorde massa herrys
weerloos en woedend –,
is ek ongesiens
na ‘n ou vyandsvlag weggevoer
Suid-Afrika, Suid-Afrika
tot nooit-weersiens,
want my erfenis is
in
sy
moer
!
Discover more from Botsotso
Subscribe to get the latest posts sent to your email.