Home 9 Literary Archive 9 Poetry 9 die rewolusie het uitgereën

die rewolusie het uitgereën

by Martin Labuschagne

vanmiddag, jare na die persreën,
word ‘n bedonderde betoging
vir dié of daai agtienpersent verhoging,
aanmekaargeflans en in-gebus.
-: slagsprekende spreektrompette met
verwytende vuiste in die lug
is rewolusionêr-reg
vir nog ‘n binne/bende-geveg
onrus-plakkate het vryheid gesweer,
met ‘n donderende dreunsang op die maat
van stampende stewels,
is stroperige struggle songs gesing,
maar niemand het ag geslaan op die moontlikheid van reën,
verradderlik-verspreide donderweer
druppel op druppel het die onmenslike Natuur
die samekoms weg-gedreun:
en plakkate het sambrele geword
wat jillende skares na busse begelei
dan: word alles weer sto(r)m-stil.
en almal verklaar: later, op ‘n ander keer,
sal ons weer masjeer, onwetend:
dat vanoggend
om twee-minute-voor-twaalf
het die rewolusie finaal uitgereën
en iewers in die townships
het Jesus geween